Sunday, July 18, 2010

Lysies van 'n Londenaar

Die grootste fout wat mens as groentjie in Engeland kan maak, is om heeltyd jou lewe hier met die een wat jy in Suid-Afrika sou hê te vergelyk. Dis futiel. Wat nie beteken ek het nie 'n lysie nie.

Wat ek die meeste van SA mis:
  1. Mense

    Die talle troues, reunies, verjaardae en geboortes wat ek graag sou wou meemaak. Ek mis ook die gewone mense van Suid-Afrika wat altyd wil weet hoe dit gaan, en ongevraagde persoonlike aanmerkings oor jou inkopies maak as hulle dit oplui.

  2. Die totale aanslag op my sintuie

    In SA is al 'n mens se sintuie permanent in aksie. Hier nie. Dit skok jou as jy na 'n lang ruk truggaan en dit jou tref die oomblik wat die vliegtuig se deure oopgaan. Hier is alles gedemp. Ek kan amper niks ruik nie. Nie eens die see nie. (Op die trein ruik alles wel soms na knoffel en krip.) Die supermark-vrugte en -groente smaak na niks. G'n wonder almal is verslaaf aan gebraaide hoender nie.

  3. Lig en lug

    In Suid-Afrika kan ek my verkyk aan die wolke en die sterre. Hier kerm ek gereeld oor die lug wat vir tot drie maande aaneen dieselfde skakering as die grys kantoor-blindings is.
     
  4. My tandarts

    Ek het nog nooit ná 'n standaard-ondersoek by my tandarts in SA weggeloop met my hele gesig vol bloed nie.
     
  5. Kos

    Ek kan hier vir 'n maand lank elke dag kos van 'n ander land eet. Maar soms is ek net lus vir my ma se kos.
Voordele van Engeland:
  1. Media

    Ons kry soggens (Metro) en saans (Evening Standard) gratis koerante op die trein. En dwarsdeur die week gratis tydskrifte. As ek naweek-koerante koop, hou dit my die ganse week besig. Ek koop selfde tydskrifte, tensy daar 'n freebie in is. (Gereeld.) Naellak, DVDs, t-hemde, plakkies, sonbrille ... enigiets. Ek kan dit nie weerstaan nie.
     
  2. Geleenthede

    Hier hoef jy nie jou lewe lank te spaar vir 'n oorsese reis nie. Dis bv très magnifique om binne vier uur in Parys (Frankryk) te kan wees. As jy sou wou. Dis 'n voorreg om mense van regoor die wêreld te ontmoet, of mense van jou eie land te leer ken wat dalk nooit in jou kringe in SA sou beweeg nie. Dis wonderlik om nuwe bands te ontdek, of na konserte te gaan van al die groepe waarop ek grootgeword het - Morrissey, Echo and the Bunnymen, U2 of James. In laasgenoemde se geval het ek selfs een keer akkreditasie gekry om hulle af te neem.
     
  3. Keuses 

    'n Magdom keuses vir watookal jy wil eet, doen, sien, leer. Ek het een of twee keer die Time Out gekoop en nooit weer nie, want ek was so oorweldig dat ek net op die bank inmekaargesak het van opsie-verlamming.
     
  4. Openbare vervoer

    Jy sal my nooit oor die treine en busse hoor kla nie. Ek's 'n baie beter mens vandat ek nie hoef te bestuur nie. Hier kan ek lekker op die tube sit en op my hoesmedisyne hallusineer, met niemand wat hulle ligte agter my flits omdat ek te stadig ry in die vinnige baan nie.
     
  5. Geld

    Ek verdien dieselfde, indien nie minder nie, as mense wat 'n soortgelyke werk as ek in SA doen. Ek kan verseker nie reis, spaar én lekker lewe nie. So nou spaar ek nie. Maar, as jy bereid is om opofferings te maak met hoe en waar jy bly, is dit nie duur om lekker te lewe nie. In SA was ek so besig om heeltyd my sente om te draai, dat ek fisies vir niks anders tyd gehad het nie.
(vir Kammanuus, Julie 2010)

3 comments:

Unknown said...

Hi Stinnie

Jou opgespoor! Baie die stukkie geniet. Net een comment om by te las op iets wat jy gese het - ek dink SA kla ook nie dat jy nie meer hoef te bestuur nie! Die aande wat ek die "tannies" moes Akker toe ry!

Hoop dit gaan goed!

Ekke

Christine said...

Sorry, sien nou eers die comment - was lanklaas op die blog.
Ek't al vergeet van daai Akker-uitstappies haha
Tannie se moer. Dis nie ons wat so oud was nie, dis jy wat so 'n bogsnuiter was! :-)

Anonymous said...
This comment has been removed by a blog administrator.